Klipkouers Potgooi

Informações:

Sinopsis

Sakeman, Jacques Basson, gesels weekliks met Afrikaanse entrepreneurs en impakmakers, wêreldwyd, ten einde praktiese besigheids-en lewensadvies te ontgin.

Episodios

  • Episode 146: Heinrich Strydom

    30/11/2021 Duración: 01h17min

    Heinrich Strydom se aanvanklike droom om vir die Proteas krieket te speel, het mettertyd omgeswaai na ‘n ambisie om een van die top administrateurs in SA sport te word. As die jongste hoof-uitvoerende beampte van ’n plaaslike krieketfranchise, toe hy vyf jaar gelede op 34-jarige ouderdom aangestel was as baas van die Dolphins, is Heinrich besig om homself uitmuntend van sy taak te kwyt. Sy kontrak is onlangs met ’n verdere vyf jaar verleng. As ’n gebore en getoë Potchefstromer, is hy ’n alumnus van die NWU Besigheidskool - wat hy meen hom toegerus het met die visie en strategiese bestuursvernuf wat nodig is in die genadelose wêreld van professionele sport.

  • Episode 145: Heinrich Becker

    19/11/2021 Duración: 01h08min

    Die wyse waarop myne funksioneer is besig om radikaal te transformeer. Digitale oplossings help om ’n mynbou-omgewing te skep wat veilig en volhoubaar is, met ’n geïntegreerde werksmag wat stimulerende take verrig. Heinrich Becker is die Uitvoerende Direkteur en mede-stigter van Krypton Mining, ’n innoverende maatskappy wat spesialiseer daarin om wêreldklas digitale mynbou-oplossings aan die Afrika-mark bekend te stel. Heinrich beskik oor uitgebreide ervaring in terme van besigheidsontwikkeling, en spesifiek die definiëring en implementering van besigheidsbevordering en optimiseringsinisiatiewe. Volgens hom is behoefte-analise egter ‘n deurslaggewende stap wat geneem moet word alvorens ’n maatskappy op ’n tegnologiese oplossing besluit.

  • Episode 144: Dr Jacques Faul

    12/11/2021 Duración: 01h03min

    Jacques Faul benodig geen bekendstelling as suksesvolle hoof-uitvoerende beampte van die Titans nie. As iemand met ’n passie vir die bestuur van belangegroepverhoudings, is Jacques ook ’n akademikus van formaat, met ’n doktorsgraad in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en is hy onlangs aangestel as medeprofessor by die NWU Besigheidskool.Hy glo dat die besigheidskant van sport beslis kan baat by akademiese insette van ’n instansie soos die Besigheidskool. Verder praat Jacques padlangs oor sy opspraakwekkende wedervaringe as waarnemende HUB van Krieket SA ’n paar jaar gelede, en lug hy die mening dat dit ideaal sou wees om sport en politiek heeltemal te kon skei. Maar is dit haalbaar?

  • Episode 143: Dr Cobus Oosthuizen

    08/10/2021 Duración: 01h11min

    Die mens is nie veronderstel om ’n gevangene van ’n voorafbepaalde stel keuses te wees nie, aangesien die toekoms ’n magdom van uitkomste bied. Aldus Dr Cobus Oosthuizen, dekaan van die Milpark Business School in Johannesburg. Cobus is ’n deskundige op die gebied van leierskap, entrepreneurskap en strategie. Die voltooiing van sy MBA aan die NWU Besigheidskool het Cobus se horisonne dramaties verbreed, en die droom om ’n besigheidskool te lei, en ’n agent van positiewe verandering te word, laat posvat. Hy glo dat die leermeester self meer leer wanneer hy ander leer, en dat jy bloot ’n ontdekkingsreis fasiliteer wat ook jou eie intellek strek.

  • Episode 142: Melanie van Rooy

    24/09/2021 Duración: 01h04min

    Bemarking is nie bloot ‘n integrale deel van besigheidsukses nie. Dit is die besigheid. Melanie van Rooy staan aan die hoof van bemarking by Clicks, en was vroeër in dieselfde hoedanigheid betrokke by sowel Makro SA as Dis-Chem. Met ‘n doktorsgraad in ekonometrie, het sy ‘n passie vir bemarkingsanalise ten einde verbruikersgedrag beter te verstaan en bemarkingstrategieë te verbeter. En, Melanie, wat ‘n paar jaar gelede by die dood omgedraai het vanweë ‘n gewas in haar kolon, beskou haar besluit om ‘n MBA te voltooi aan die NWU Besigheidskool, as die insiggewendste hupstoot vir haar loopbaan in die korporatiewe wêreld...

  • Episode 141: De Wet Bisschoff

    17/09/2021 Duración: 01h07min

    Dis belangriker as ooit dat besighede hul denkwyses wysig om aan te pas by die nuwe normaal. Dit beteken dat die wonderlike wêreld van tegnologie optimaal benut moet word. Met ‘n kwarteeu se ervaring juis in die lewering van tegnologie oor ‘n verskeidenheid van industrieë, het De Wet Bisschoff homself onderskei as ‘n sakeleier van formaat in Afrika. Met ‘n MBA verwerf aan die NWU se Besigheidskool, is De Wet die direkteur van Accenture se Afrika-operasies, en hy gesels onder andere oor die ongelooflike besigheidsgeleenthede wat voorheen onontginde lande soos Rwanda en Zambië bied.

  • Episode 140: Pieter Geldenhuys

    09/09/2021 Duración: 01h19min

    Pieter Geldenhuys is ‘n bekroonde akademikus en geleentheidspreker met ‘n uitgebreide kennis van innovasie, toekomstige tendense en tegnologiese ontwikkeling. Sy gewildheid as spreker spruit uit sy vermoë om die verlede en hede te kombineer, ten einde ons in te lig oor die toekoms. Pieter is ‘n internasionaal befaamde futuris, en stigter en direkteur van die Institute for Technology Strategy and Innovation - ‘n organisasie wat top maatskappye help om hul innoverende potensiaal te ontgin. Pieter het ‘n MBA verwerf aan die NWU Besigheidskool, en dien tans ook as dosent in Tegnologie Strategie aan die Besigheidskool.

  • Episode 139: Dewald Olivier

    02/09/2021 Duración: 01h22min

    Dewald Olivier is sedert 2018 die hoof uitvoerende beampte van die SA Voerkraalvereniging, in welke hoedanigheid hy toesig hou oor die vereniging se werksaamhede ten einde nakoming en doeltreffendheid op alle vlakke te verseker. Dewald het ‘n MBA met lof verwerf aan die NWU Besigheidskool, wat hy as ‘n bepalende ervaring beskryf, en dien ook as voorsitter van sowel die MBA Alumni-vereniging as die Adviesraad van die Besigheidskool. As iemand met jarelange ervaring in die landbou-industrie, spog Dewald met ‘n bewese baanrekord in die omskakeling van besigheidsdoelwitte in strategieë en taktieke.

  • Episode 138: Quentin van den Heever

    25/08/2021 Duración: 56min

    Die Synthetic Latex Company (SLC) is ‘n sleutelspeler in die SA chemiese industrie. Besturende direkteur en mede-eienaar, Quentin van den Heever, vertel van SLC se oorsprong as ‘n gesamentlike onderneming met Rivertex SA in 1967, en hoe hulle hulself 50 jaar later as ‘n onafhanklike maatskappy kon posisioneer. SLC spesialiseer in die vervaardiging van lateks polimere vir die verf-, konstruksie-, papier & bord- en mat & tekstiel-industrie, en het uitgebrei na chemiese verspreiding, geïntegreerde pakhuise, industriële skoonmaakdienste, tolvervaardiging, grootmaat stoor en stofonderdrukking. Hulle beskik ook oor ‘n samewerkingsruimte, naamlik WorkZone@SLC, terwyl die Shared Services Company (SSC) ‘n opwindende inisiatief is wat korporatiewe dienste bied aan entrepreneurs.

  • Episode 137: Cobus van der Merwe

    04/08/2021 Duración: 01h18min

    Volgens Cobus van der Merwe, stigter van Skudu, ‘n man met bykans 30 jaar se ondervinding in kommoditeite handel, voorsieningsketting en besigheidsbestuur, is daar twee aspekte wat van kardinale belang is in bemarking: bewuswording en tydsberekening. Tegnologie speel ‘n al hoe belangriker rol om bemarkingsvraagstukke vir die boer op te los, soos Skudu se revolusionêre Match-toepassing, wat ‘n direkte skakel skep tussen boere en kopers van hul gewasse, en dus sowel bewuswording as tydsberekening aanspreek. Verder werp Cobus ook meer lig op die kontroversiële onderwerp van vervoerdifferensiaal, ‘n tameletjie waarmee SA Landbou reeds vir die afgelope 25 jaar worstel. Besoek hulle webwerf: https://skudu.co.za/

  • Episode 136: Koos Janse van Rensburg

    07/07/2021 Duración: 58min

    Koos Janse van Rensburg is ‘n gebore en getoë Vrystater, maar het, nadat hy sy BCom-graad aan UOVS verwerf het en 15 jaar as ‘n ouditeur in Betlehem gewerk het, etlike jare in die Wes-Kaap deurgebring, uiteindelik as bedryfsdirekteur van Kaap Agri. Hy het 15 jaar gelede egter teruggekeer Vrystaat toe, toe hy as Besturende Direkteur van VKB in Reitz aangestel is. Koos praat padlangs oor die 150-jarige geskiedenis van koöperatiewe landboubesighede, soos VKB, in Suid-Afrika, en hy wil graag sien dat VKB as maatskappy homself as die onbetwiste leier in plaaslike landboubesigheid vestig.

  • Episode 135: Gerda van Schalkwyk

    04/06/2021 Duración: 01h24min

    Gerda van Schalkwyk, sjarmante eienares van die Isigidi Group, het oor die jare voortdurend nuwe vaardighede aangeleer. Dit het haar in staat gestel om gereeld te diversifiseer - soos dit ‘n ware entrepreneur betaam. Nadat sy aanvanklik as ‘n skoonheidsdeskundige opgelei was en uiteindelik haar eie salon vanuit die huis bedryf het, het Gerda deur Damelin verder as ‘n funksie koördineerder gekwalifiseer, en daaruit het Isigidi voortgespruit. Isigidi koördineer funksies groot en klein, maar verkoop ook eksklusiewe damesuitrustings, wat Gerda aanvanklik van Bangkok ingebring het maar nou self ontwerp. Energie, geesdrif en oorspronklikheid is inderdaad die sleutel tot hierdie dinamiese dame se sukses.

  • Episode 134: Prof. De Wet Swanepoel

    17/05/2021 Duración: 01h27min

    De Wet Swanepoel het homself nie alleen die afgelope paar dekades onderskei as ‘n vooraanstaande kundige op die gebied van oudiologie nie, maar sy ondernemingsinstinkte het een van die wêreld se suksesvolste digitale gehoor-gesondheidsondernemings tot gevolg gehad. De Wet, ‘n Professor in oudiologie aan Tuks, is die stigter en wetenskaplike adviseur van die hearX-groep, ‘n gehoor-gesondheidsfirma wat bekostigbare toegang tot gehoorversorging bied deur die aanwending van slim digitale gesondheidsoplossings wat enigiemand, op enige plek, kan gebruik. Volgens De Wet, het hearX in 2015 ontstaan as ‘n sosiale onderneming, en onlangs ‘n allemintige US$8.3 miljoen Reeks-A fondsinsameling voltooi.

  • Episode 133: Johan Badenhorst

    26/04/2021 Duración: 01h25min

    Suid-Afrikaners is die afgelope dekade reeds vertroud met en versot op Voetspore, die reeks van reisdokumentêre programme op SABC 2. Dit het Johan Badenhorst gevestig as ‘n huishoudelike naam in menige sitkamers regoor die land, vanweë die epiese togte wat hy sedert 2000 onderneem het regdeur Afrika en verder - selfs so ver as Indië. Johan sien homself primêr as ‘n TV-programvervaardiger en joernalis, wat daarvan hou om stories te vertel. Sy wedervaringe het egter ook die entrepreneur in hom aangewakker, en dit het aanleiding gegee tot die Voetspore-leefstylwinkel en 4x4 monteringsentrum in Pretoria. Hierdie is een van die fassinerendste gesprekke wat ek in ‘n lang ruk gevoer het...

  • Episode 132: Roland van der Walt

    29/03/2021 Duración: 53min

    Om entrepreneurskap, tegnologie en bemarking byeen te bring is Roland van der Walt se kos. Hy is passievol daaroor om voortdurend nuwe oplossings te vind vir die wêreld se immer-ontwikkelende vraagstukke. Met meer as twee dekades se ervaring in bemarking en verkope, waarvan ‘n hele paar jaar oorsee, dien en bestuur Roland verskeie maatskappye op direksie-vlak, insluitende Rateweb, GoRugged en RaakRof, en, natuurlik, die moedermaatskappy Instacom, wat fokus op Push-to-Talk tegnologie. Roland van der Walt is inderdaad ‘n reeks-entrepreneur, met ‘n oneindige stroom van nuwe idees en die bemarkingsvernuf om daardie idees te verkoop.

  • Episode 131: Neels Grieshaber

    22/01/2021 Duración: 01h19min

    Neels Grieshaber is nie alleen ‘n suksesvolle boer van die Ellisras-distrik in die Bosveld nie. Hy is ook ‘n entrepreneur by uitnemendheid. Neels is die baasbrein agter die bekroonde alles-in-een klamptang, Magi-Clamp, wat ontwerp, ontwikkel en vervaardig is om draadklampe effektief vas te maak op enige pyp of spuitslang of veerkragtige materiaal of ander klamptoepassings. ‘n Voortdurende gesukkel om stukkende waterpype op die plaas en in voertuie te herstel, het Neels genoop om te begin eksperimenteer, en hy het die baanbrekerswerk van sy oorlede oom, Jimmy Grieshaber, verder gevoer en vervolmaak. Juis daarom noem hy die Magi-Clamp ook die ‘Jimmy’ Tool’...

  • Klipkouers - ‘n Kersfees 2020 boodskap deur Jacques Basson

    24/12/2020 Duración: 19min

    En daar is "Covid 2020" op sy rug! Dit is vir my ‘n wonderlike voorreg om ‘n paar besigheids- en persoonlike hoogtepunte met julle te deel. Baie dankie vir die volgehoue ondersteuning en lojale luisters – ek wens jou en jou geliefdes ‘n geseënde Kersfees en ‘n baie suksesvolle 2021 toe!

  • Episode 130: Morné Basson

    03/12/2020 Duración: 01h23min

    Morné Basson is die verpersoonliking van ‘n ‘Klipkouer'. En, die ideale persoon om 72km/dag fiets te trap vir 72 opeenvolgende dae. Dit doen Morné ter ondersteuning van The Character Company, wat mentorskap aanbied vir jong seuns wat grootword met ‘n afwesige pa. Morné is ‘n merkwaardige langasem, en het al 72 marathons afgelê, op ‘n trapmeul, ter bewusmaking van motorneuronsiekte, en in 2015 selfs die Comrades voltooi op ‘n passasierskip in Alaska! Morné beskik egter nie alleen oor ongelooflike fisiese uithouvermoë nie, sy geestelike deursettingsvermoë is onlangs ook deeglik op die proef gestel met die skielike heengaan van die groot liefde in sy lewe. Hier is sy hartroerende en inspirerende verhaal.

  • Episode 129: Corbèr Viljoen

    10/11/2020 Duración: 01h05min

    Corbèr Viljoen het sy lewe lank ‘n absolute passie vir klassieke motors. Toe hy in standerd ses was het sy entrepreneur pa reeds vir hom ‘n Ford Fairlane gekoop. En, hoewel sy ma wou gehad het dat hy ‘n vlieënier moes word, het sy passie vir ou karre uiteindelik die botoon gevoer en beoefen Corbèr sy aanvanklike stokperdjie die afgelope vyf jaar reeds as ‘n voltydse beroep. Sy onderneming, Wat Swaai Jy, in Menlyn, spesialiseer in die koop en verkoop van klassieke motors, en hulle is ook spesialiste op die gebied van restourasie. Volgens Corbèr is sy kliënte meestal entoesiaste wat sy passie vir karre deel. Gaan kyk gerus ook na Corbèr se vrou, Nadia, se Instagram blad wat meer op die skoner geslag van klassieke motor entoesiaste gemik is: https://www.instagram.com/classiccargirl/

  • Episode 128: Kallie Carlsen

    06/10/2020 Duración: 01h21min

    The Tornadoes, ‘n Britse popgroep van die Sestigerjare, het in 1962 ‘n futuristiese Nr 1-treffer gehad met hulle enkelsnit, ‘Telstar’,wat verwys na een van die eerste kommunikasie-satelliete wat ooit gelanseer is. Soos Kallie Carlsen egter verduidelik, is kommunikasie-satelliete lank reeds nie meer futuristies nie. Kallie is die besturende direkteur van Paratus Suid Afrika, ‘n onafhanklike verskaffer van laaste-myl, satelliet-gebaseerde konnektiwiteit en toegangsoplossings. As een van die grootste verskaffers in Afrika, beskik Paratus oor 4000 satelliet-terminale regoor die vasteland en bied dit die volle spektrum van end-tot-einde konnektiwiteitsoplossings. Dit lewer onder andere ook ‘n kritieke diens aan boeregemeenskappe, met die groeiende kommer rondom plaasveiligheid in Suid-Afrika.

página 5 de 15